Home - HouseFinder Property and Real Estate listing and Magazine Namibia

Hot Topic - Aug 2019

Minder rente, deposito's


Minder rente, deposito's

Republikein - 15 August 2019

Jo-Maré Duddy – Huiseienaars en voornemende huiskopers glimlag breed ná die Bank of Namibia se monetêre beleidsaankondig gister: Nie net oor die eerste rentekoersverlaging in presies twee jaar nie, maar ook omdat hulle eersdaags ‘n heelwat kleiner deposito vir ‘n verbandlening sal moet opdok.
Naas die BoN-president, mnr. Iipumbu Shiimi, se nuus dat die repokoers met 25 basispunte tot 6,5% daal, het hy ook laer lenings-tot-waarde-verhoudings (LTV’s) aangekondig.
LTV’s is in 2017 ingestel om ‘n oorverhitte huismark en wegholpryse te stuit en die finansiële stabiliteit van die land te beskerm. Sederdien betaal net mense wat ‘n huis as hul primêre woning koop, geen deposito op lenings nie. Dit bly onveranderd.
Sodra die nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is, sal die deposito vir ‘n bykomende huis van 20% tot 10% verlaag.
Tans is die deposito vir ‘n tweede bykomende huis 30%, gevolg deur 40% vir ‘n vierde en 50% vir ‘n vyfde en meer. Met die nuwe regulasies is daar ‘n enkele koers van 20% vir al dié bykomende aankope.
Volgens Shiimi het daar sedert 2017 baie water in die see geloop: Die ekonomie het verlangsaam en die huismark het beduidend afgekoel. Gevolglik is finansiële stabiliteit aan minder risiko blootgestel.
Die instelling van LTV’s, gepaardgaande met die resessie, het huispryse onder druk geplaas en die mark gedemp. Die jongste data van FNB Namibia toon die gemiddelde huisprys het van 2017 tot Maart vanjaar met 6% gedaal.
Verbruikers se totale huisleningskuld aan die einde van Junie vanjaar was sowat N$39,9 miljard – bykans 7,6% meer as in Junie 2018. In Junie 2016 was die jaarlikse groei 11,4% en in Junie 2017 was dit 8,7%.
ONTLEDERS
Ontleders het gister se aankondiging verwelkom.
Soos Shiimi, maan hulle egter teen verwagtinge dat die sukkelende huismark oornag gaan herstel.
Mnr. Robert McGregor, ekonoom van Cirrus Capital, sê die nuwe LTV’s behoort ‘n bietjie lewe in die huismark te blaas.
Mnr. Dylan van Wyk, navorser by IJG Securities, stem saam: Van die beleggers in eiendom kan na die mark terugkeer. Dit kan huispryse gedeeltelik laat herstel, meen hy.
Die samesteller van die FNB Namibia-huisprysindeks, me. Ruusa Nandago, sê die nuwe LTV’s kan huiskopers in terme van bekostigbaarheid ‘n hupstoot gee.
’n Beduidende, algehele verbetering in die huismark sal egter hoofsaaklik van hoër besteebare inkomste afhang. Dít sal net deur ‘n reële salarisverhogings meegebring word, sê sy.
Amptelike data toon ‘n afname in reële salarisgroei die afgelope twee jaar.
Met die huidige ekonomie, “haglike werkloosheid” en “patetiese verbruikersbesteding” verwag Nandago nie ‘n ommekeer nie.
“Ons verwag dus die huismark sal in die rooi bly. Enige verbetering sal waarskynlik stadig en geleidelik wees,” sê sy.
McGregor en Van Wyk deel haar siening.
Shiimi het gister gesê die BoN is besig om sy ekonomiese vooruitskatting aan te pas. Geen wafferse groei word vanjaar verwag nie.

-Lees Republikein vir meer - Jou land. Jou taal. Jou koerant.

Catalea Properties

Okamita

Mcpherson Realtors

Rightmove Properties

Doris Hentzen Properties

Sylvie McTeer Properties

Jireh Real Estate

HomePage Estate Agency

Kruger Real Estate

Rina de Bod

GPM Services

HouseFinder Namibia. © 2019, All rights reserved
Disclaimer Privacy Policy
Another website escaped from the Asylum Design and Development